Wednesday, June 4, 2008

Ems

Ek bel eers om te hoor presies waar die gebou is, en waar kan ek parkeer, en waar is die ingang, en op watter vloer moet ek by wie uitkom. 'n Ferm stem antwoord en sê: "Bly jy nou eers stil. Het jy papier ? Teken 'n Liewe Jesus kruis. Aan die onderkant van die kruis trek jy 'n streep, dwars, en jy skryf..."

Ek bly stil, en ek teken, en ek skryf, en draai die papier dié kant om sodat ek sooi kant toe kan kyk, en ek korrel noord teen die Liewe Jesus kruis se regopbeen langs, verby die kwadrant waar ek die swart vensters sal sien...

So geleer, so gemaak. Ek parkeer presies so, en staan en draai my gesig na daai kant toe, en kyk vas in die ding wat ek gesê is ek daar sal sien, en steek die klein dwarsstraatjie wat só loop, oor... en so beland ek - presies soos belowe - voor haar deur.

Ems. "E-M-S, Ems" sê sy.

Ek het gegaan om 'n pak dokumente af te gee, met dien verstande dat dit waarskynlik TEN MINSTE twee maande sal duur voordat ek hoor dat ek die getekende vorm wat ek soek, sal kan kom haal.

Maar toe ontmoet ek vir Ems. Op 'n dag wat die wêreld met sy volle gewig op haar twee skouertjies kom sit het. Groot siekte se spore is onmiskenbaar. Kanker, het ek later agtergekom, en 'n hele paar ander kwale waarvoor die bed sekerlik 'n beter plek sou gewees het as die bleek, besige goewermentskantoor wat sy beman.

Sy luister my storie halfpad, vat die pak dokumente en stryk daar weg asof sy self teen haar Liewe Jesus Kruis se regopbeen op pad is. En sonder dat ek dit weet, gaan bewerk sy die sisteem - haar baas inkluis - soveel so, dat ek later die middag daar uitstap met my getekende vorm in my hand. En met Ems aan my sy - 'n yslike skare betogers het die strate gevat, en Ems wou sien dat ek veilig by my motor kom. Kleiner van postuur as seker enigeen van die betogers wat ons daar kon skade aandoen, en waarskynlik sieker & swakker as almal van hulle - maar 'n hart sweerlik enorm groter as enigeen wat ek verdien het om teë te kom.

Ems.