Thursday, May 22, 2008

klaviere op 'n kalm nag

Baie stories het al begin met "it was a dark and stormy night". Nie hierdie een nie. Dit was nag, ja - maar met 'n kalm see in die helder maanlig. Die S.S.Wallarah was op haar nooiensvaart, en in daardie stil, on-dramatiese nag loop sy haar te pletter op Dassen Eiland. Die ganse skeepsvrag op die rotse, en die dieptes in. Klerasie, stewels, rum, whiskey, houers vol kwik - en klaviere.

Klaviere ? Dis reg - en so sorgvuldig & waterdig verpak dat die WesKus mense nog weke-lank klaviere uit die see uit gered het. Dit was 1891, en 'n klavier in die voorhuis was 'n klein altaar vir beskawing - 'n verskansing teen die eelte van 'n lewe in Afrika. Dit was hoe belangrik die klaviere vir die mense was.

Alte dikwels erfstukke. Soos die grond op die manlike lyn af, het die klavier op die vroulike lyn af die familie se verganklikheid getroef. Tradisies & herinneringe het geanker geraak in die vergulde kershouers & vergeelde bladmusiek. Dit was deel van die kleintjies se rympies-leer, van skoolhou & godsdiens-hou, & opsit, en partytjies, & begrafnis, en alleen-agterbly.

Gaan kyk maar na die ou statige plaas-opstalle - waar jy hulle nog kan kry - en die pragtige klaviere (dikwels Duits-vervaardig) en kyk na die foto's en vra uit na die geskiedenis. En telkemale begin dit met die storie van 'n vrou met 'n innige liefde vir musiek, en 'n verbete determinasie om daardie stukkie verfyning aan die lewe te hou. En aan te gee, as sy kon. 'n Nalatenskap vir 'n dogter uit die ryk & ryp diepte van 'n ma se hart. Ek het met so 'n klavier groot geword.

En nou wonder ek oor die voorkamers van Suid-Afrikaanse plase waar lewens en erfenislyne so dikwels brutaal afgesny word. Dalk was daar 'n oorgeërfde familie-klavier, met al die rykdom van betekenis & verankering wat dit inhou. Dalk was daar 'n eeu-oue erfenislyn - nie net van goed nie - maar van verfyning en verryking en verdieping wat nou in 'n nag van barbaarse geweld tot 'n einde gekom het. Meesal op 'n andersins rustige, kalm & vreedsame nag. Wanneer 'n verwoestende, tierende, donderweer-&-blitse-nag 'n meer paslike toneel-inkleding sou wees.

'n Weervoorspelling van 'n kalm nag, sonder storms & wind, beteken nie noodwendig 'n veilige nag - sonder skok & gevaar - nie. 'n Skip kan op die rotse loop, en 'n onvervangbare stukkie kosbare beskaafdheid kan - roekeloos - die lewe ontneem word.

Tuesday, May 13, 2008

vrouens & kinders eerste

Voordat ek 5 jaar oud was, het my ouma Gran my op 'n landsreis per trein geneem. Net ons twee - in 'n coupé op die Trans-Karoo. En net daar het die avontuurlus, wat in elk geval reeds in my gene ingeteel was, vlamgevat - saam met die aanvaarding dat dit alles moontlik was, selfs vir 'n voorskoolse plaaskind saam met haar ouma. Ek het verbasend baie herinneringe oorgehou van daardie wonderlike avontuur - maar nie een van hulle het te doen met veiligheid nie.

En dis 'n ding wat aan my karring. Nou die dag kry 'n vriendin lus vir die trein - Kaapstad na Wolseley. En waar is ons besorgdheid ? Die weer ? Die prys van die treinkaartjie ? Nee. Dis haar veiligheid, vrou-alleen op die trein, wat ons laat frons & waarsku & wakker-lê. Liewe Vader - en in reis-terme is dit skaars klipgooi-vêr.

Watter versmorende pre-okkupasie vir 'n vrou om saam te dra - sy is nie veilig in die wêreld nie. Ja, ek weet dis deesdae waar vir almal van ons - mans ook. Maar daar is iets ernstigs verkeerd met 'n samelewing waar vrouens nie veilig kan voel nie. Erger: waar vrouens teikens is. En ons hoef nie voorbeelde hiervan so ver as die verskrikking in Darfur te gaan soek nie...

Wat het geword van "vrouens & kinders eerste"? Bestaan daardie seemanstradisie hoegenaamd nog - dat vrouens & kinders eerste gered moet word, en voorkeur by die reddingsbote kry ? Wat 'n gedagte: dat vrouens & kinders op baie plekke in hierdie skewe wêreld van ons minder konsiderasie kry as wat hulle op die sinkende Titanic sou toekom ...

Hier's die bitter voetnota: Vrouens & kinders kom nog eerste - as teikens. En dalk was dit nog maar altyd so ?

Saturday, May 3, 2008

die perd Why-Not

Die plaas waarop ek grootgeword het, was 'n erfplaas. Aangegee op die manlike lyn af, deur 'n hele paar boere generasies daar in die wye vlakte voor die berg. 'n Regte egte boere-plaas met die soort lewe wat daarmee saamgaan. Selfs nog tot in die hoeveelste geslag toe ek my opwagting daar gemaak het.

Maar daar was altyd iets wat by 'n boereplaas gehoort het, wat net heeltemal afwesig was. En daar was ook nooit oor gepraat nie. Dit was só afwesig, só verswyg, só onsigbaar, dat ek eers baie jare later agtergekom het dat dit half ongewoon was. Daar was nooit perde nie. Nêrens, nie eens een ryperd nie. Op 'n boereplaas, en nogal een waar die skaap nog elke jaar Karoo-toe getrek is. 'n Plaas, in daardie tyd, sonder perde.

Wel, dis soos ek dit kom kry het, en dis soos ek dit aanvaar het. En toe vertel my ma my nou die dag die storie van my ouma en die perd Why-Not.

Op 16 het my ouma haar pa oorreed om haar na Worcester se Seminarie te laat gaan. Sy wou gaan leer. En haar pa stem in, metdienverstande dat Annie dan sommer kan skoolgee vir die jonger boeties & sussies, en ander boerkinders in die omgewing. So gesê, so gedaan. Klaargeleer begin Annie skoolhou & dit gaan goed, en sy het elke maand 'n verdienste. Wat 'n goeie ding is, want Annie is 'n mooi jong vrou en sy sal haar trousseau moet begin bymekaarmaak.

En so, op 'n dag ontmoet Annie haar toekoms - die erfgenaam-seun van daardie erfplaas in die vlakte voor die berg. En Annie is gerus - sy sal haar nie vir haar trousseau hoef te skaam nie - sy het mos nou al 'n geruime tyd verdien. Daar behoort 'n goeie bedrag weggesit te wees, want elke maand het sy net 'n bietjie sakgeld van haar salaris gekry - haar ouers het die res veilig bewaar. Dit was altans die afgespreekte reëling.

"Nee my kind, jou pa het 'n perd gekoop. Maar hy belowe hy sal jou iets gee vir die troue." Nou ja, daar was nie te argumenteer nie - en in elk geval sy sal haar geld kry, al is dit nou maar eers met die troudag. Sy maak klaar, die troue kom, en haar pa bring haar geskenk. Dis 'n perd, en die perd se naam is Why-Not.

Saam met haar bruidegom & die skoonfamilie is Annie & Why-Not plaas toe om haar getroude lewe daar te begin. Why-Not was nie 'n maklike perd nie - onrustig, senuagtig, onvoorspelbaar - en het so gebly nog tot die volgende jaar toe Annie se eersteling op pad was. Die boerelewe was nie maklik nie, en swanger of nie, Annie moes haar deel doen, en aanhou doen. 'n Paar keer per week moes sy op die perdekar saam met haar man na die buiteposte toe ry - sy was die hek-oopmaker. By die hek aangekom, moes sy vinnig afspring, hardloop, vinnig oopmaak - want oupa kon nie vir Why-Not kry om stil te staan nie. Die kar deur die hek, en Annie moes hardloop om in die ry weer op te spring, want Why-Not wag nie. En op die plaaspad tussen GrootVlak & KleinVlak was daar baie hekke - die mense het hulle bek-slaners genoem, met goeie rede.

En so het dit gekom dat ek grootgeword het op 'n boereplaas waar geen perde was nie, en waar niemand ooit daaroor gepraat het dat daar nie perde was nie.