Friday, February 27, 2009

ysterkateltjie op my dak

Die wêreld, soos ek hom kom kry het, het twee pole gehad: Bokveld en Karoo. En saam met die skaaptroppe se jaarlike migrasie tussen die twee het my familie gependel. Net voor die winter Karoo-toe. Laat-lente terug na die die genadige klimaat en geriewe op die wye vlakte teenaan die beskutting van 'n Bolandse berg. Dit was die oorkoepelende ritme van daardie tyd waarby ander lewensbedrywe aangepas het. As die Karoo die jaar vroeg gereën het, nou ja, dan trek dit vroeër. Vroeër die inpakkery vir die tent-en-kookskerm maande - vir werk, skoolhou, siek-en-gesondword, vir verjaardae, geboortes, en sterftes.

Met my generasie was die skaaptrek aan't verander - daar was nou vragmotors, en mens het karoo toe gegaan vir ander redes as skaapwerk. Maar die pad was dieselfde - die trekpad by Bloubank af tot by Karoopoort; by die Witbaken regs, dieper die wye vlakte in met Eierberg ver en bleek aan die regterkant. Deur Karee-rivier, Kolkiesrivier, die drif op die draai by Platfontein, uiteindelik Toorberg ver voorkant.

Jy sluit die draadhek oop, ry deur, sluit toe & skakel die enjin af. Die karoo se stilte soos 'n swaar kombers om jou en oor jou.

Daar is mense met die gawe om rare dinge met rare woorde vas te vat - party van hulle het dit met die karoo reggekry. Ek soek nog na die regte woorde vir daardie stuk van my lewe. Die lug en die lig, die lewe in die rivierlopies, die roep van 'n korhaan, die plooiings van Pella se berge, die twee-wielspoor-paadjie bo-oor Rietpoort se Plaat. Die sterre.

Nou het die lewe sy loop geneem - met almal van ons wat daardie plek, en daardie lewe geken het. Maar bo-op my huis se dak - nader aan die sterre as enige ander plek in my lewe - staan my Ouma se karoo-ysterkateltjie.

Daar’s ‘n pad wat loop
van ‘n poort tot ‘n plaat
stofpad en trekpad
en sinkplaat
uitgery oppad
na dowwe plaasbordjies
wat bleik in die son

Daar's 'n pad wat steeds
loop van 'n poort tot 'n plaat
en 'n pynlike moot
op my hart agterlaat.