Friday, September 19, 2008

Springbokoog

"Nee man - jy sal my dadelik sien. Ek sal besig wees met die skaap."

En so was dit ook. Ons sak die bultjie af, en daar is sy - besig om lammers te merk. Vir dié wat nie weet nie, lammers merk lewer twee resultate: die lammers sing sopraan, en jy het die bestandele vir 'n klassieke boere-gereg, "Skaapstertjies en peertjies." Nou ja, as jy fyn van nerf is, wil jy nie meer weet nie.

Maar so ontmoet ons haar toe op daardie ysige oggend in the verre Bo-Karoo. Vrou-alleen, Boer-alleen. Lank, lenig, met die oë, beenstruktuur en elegansie van 'n model.

"Toe kêrels, klim". Twee plaaswerkers agter op haar bakkie, en ons met ons stads-SUV-tjie agterna. Bulte & driwwe op & deur tot heel bo-op die plato. Ek probeer nog verskoning maak vir die feit dat ons nou haar werksdag onderbreek -

"Ag nee nooit ! Die manne begin sommer nou hier bo skape bymekaarmaak terwyl ek julle gou rondwys & dan kan julle op julle eie aangaan - die plek is julle s'n vanoggend. En dan kom drink julle tee."

Sy los ons daar - omring van swart doleriet rotse. En toe begin ons hulle sien - etse amper net waar jy kyk. Diere, simbole, drome - verstommende oorblyfsels van die gestorwe, uitgestorwe, /Xam wêreld.

Later is ons stil, sonder woorde, die bult weer af, na die plaashuis toe. Ons drink tee, verwonder ons aan kunswerke teen die sonkamer se muur, en herken dan die boervrou se eie naam, klein onderaan die doek. "Ag ja mens, ek skilder so bietjie."

Ek onthou skielik van die droë damvloer waardeur ons gery het - vol dosyne gholfballe. Sy lag - "Ja man, sien vroe-môre as ek kans het dan oefen ek my kort-houtjies na die een kant toe, en in die aand dan oefen ek my bofhoue so terug na die emmer toe." En wanneer die boerdery haar skietgee ry sy die 200-plus kilometer na die naaste behoorlike grond-en-olie gholfbaan toe, en (hoor ek agterna) speel die mans uit al wat 'n prys is uit.

Sy sien kans vir alles waarmee die Bo-Karoo haar kan straf & toets - droogte, geldnood, springkaanplae - maar daar is een ding wat sy sien aankom, wat sy nie wil sien aankom nie. Sy beduie deur die wye sonkamervenster, oor die brandhelderblomme in haar tuin, na daardie Karookoppie met sy swart doleriet, en kokerbome, en eggo's van 'n ander wêreld.

"Wat gaan word van daar bo, as ek nie meer hier is om daarna te kyk nie ?"

Vrou-alleen, boer-alleen op haar plaas in 'n streek vol verwaarloosde, bankrot-gespeel- en nou maar-gelaat-lê plase. Die enkel-kuratrise van iets wat nasie-erfenis is - 'n aantyging, uitgebeitel in harde Afrika-klip, teen die wêreld se onverskilligheid.