Wednesday, December 3, 2008

bloedlyn

Op 'n plaas iewers in die Bo-Karoo ontmoet ek haar - 21 jaar oud, baie mooi, baie verantwoordelik in haar grootmensberoep, en baie beslis dat sy nie kans sien om ook, soos haar ma, boervrou te word nie. Dus werk sy in die naaste groot dorp, en is baie ingenome met haar stedelike aanstaande.

Maar soos dit maar gaan met die geselsery wat 'n lang grondpad korter maak, begin die kompleksiteite onder die onverskillige fasade gaandeweg duidelik word. En teen die tyd wat ons groet, 'n paar dae later, weet ek dat die kind se bloedlyn soos 'n voorbode voorkant vir haar staan en wag.

Daardie teensinnige, hartstogtelike liefde vir die grond wat haar voorsate op hierdie ongenadige plek laat uithou het, lĂȘ ook in haar bloed. Die lydsaamheid wat maak dat haar ma daardie harde lewe uithou, en verdra, en op 'n manier oorleef - wel, dis waarmee sy grootgeword het. Dis al wat sy ken.

En so luister ek na die kind se protes, haar onwilligheid om haar ma se lot te dupliseer - op hierdie jong ouderdom is sy al kwaad vir die lewe op 'n manier wat eintlik maar net die anderkant van 'n groot hartseer is. 'n Hartseer & 'n kwaad wat sy van haar ma ge-erf het, en wat sy weer op haar beurt aan haar dogter sal bemaak.

Dis moeilik om groter, wyer, oper horisonne te sien, as juis hier in die bo-karoo. Dis 'n plek vir vryheid. En vir 'n beperkende, versmorende, lewenslange vonnis.