Thursday, December 3, 2009

ter wille van die liefde (vir mans)


Kersfees kom aan. Soos jy kan agterkom aan elke winkel, hysbak-luidspreker, munisipale werker met 'n lys op 'n clipboard, en liefdadigheidsbriewe met uitklophoue vir jou reeds papgeslaande gewete.

Dus - al het jy laas jaar besluit: Oor-en-uit, Klaar met Krismis - kan ek jou sê: Jy weet, jy weet, jy wéét, jy gaan weer die ding doen. Al is dit dan nou die aand van die 24ste. Soos laasjaar. En die jaar voor laasjaar. Aanvaar dit maar, en maak 'n beter plan. Beter as laasjaar, en al die voriges.

As jy 'n Praktiese Petrus is, dan kyk ons waarskynlik na 'n kombuis-implement. In Godsnaam - KYK voor jy koop. Nie na die prys nie, onnosel. Na die voutjies, en hoekies, en skerp randjies, en gaatjies en slootjies wat as versiersel moet dien, maar WAT ALMAL SKOONGEMAAK MOET WORD. Die Tyd van Die Slawe is verby, en jou vrou gaan jou nie bedank vir al die ekstra werk nie. Of was dit dalk jou plan om dit self te doen ? Nee, ek het nie so gedink nie.

Sit jy in 'n koue land ? Mik jy dalk op 'n White Christmas voor 'n nuwe ingeboude kaggel-installasie ? Asseblief man - nie een van daai waar die as en half-uitgebrande kole in 'n agterste, versteekte, onbereikbare gleuf en gat kan inval nie. Dink aan die skoonmaak, my ou. Anders waarborg ek jou 'n visitasie van The Spirit of Christmas Regrettable.

Wat van 'n ou mooi dingetjie - 'n Ornamentjie... Krisjan, Krisjan: DIT MOET AFGESTOF WORD !

Linne - wat van mooi linne - vir die eetkamer - die beste kwaliteit. Beste kwaliteit ? Nou's jy waarskynlik by die 100% organiese katoen met delikate borduurseltjies en Victoriaanse whitework. Pragtig. Tot die eerste gebruik - Ja, die Kers-ete - en daar's rooiwyn, en 'n vleissous... never mind die beetslaai. Die pragtige linne moet met die hand hanteer word, anders trek die borduurdraadjies, en dit gaan moet gebleik word om die vlekke uit te kry, en dan gaan dit strykplank toe. Dae se werk. Gereed vir nog 'n halfuur tussen onsensitiewe, morsige, ondankbare eters voordat die harde-arbeid weer begin. Nee Krisjan, so dek jy jou tafel met galbitter spyse.

Klere ? Parfuum ? Grimering ? Los, Krisjan. Sy het beter smaak as jy. Moenie maak dat sy 'n ding moet aansmeer, in-asem, of dra, net om jou brose man-wees op te polish nie. Jy steek 'n vuur aan wat jou gaan skroei op plekke wat jy nie eens geweet het jy het nie.

Neem haar uit vir 'n Ete by 'n deftige restaurant - kerslig, duur spyskaart, sjampanje. Is jy ernstig ? Dis 'n present vir JOU Krisjan - jy sit agteroor en eet en drink, word bedien. Ja - nes by die huis, en op die manier ontduik jy ook die moeite om spesiaal vir haar 'n present te gaan soek. So jy treat jouself, man - en dan wil jy hê sy moet voel asof sy 'n geskenk gekry het. Jy kan nie verwag om daarmee weg te kom nie.

Wat van 'n mooi mat - 'n tapyt uit 'n midde-oosterse oorlogsfront ? A - ek sien. Stof ? Al ooit daarvan gehoor ? Daardie stofsuier wat haar rug knak waar hy nie geknak wil wees nie - en nou wil jy haar nog langer daaraan vasketting ?

'n Elektroniese gadget. Sodat jy daarmee kan speel, en sy moet maak asof sy dom is en nie verstaan nie sodat jy slim kan voel en vir haar verduidelik hoe dit werk ? Dag so.

Juweliersware ? Nee. (Die smaak-issue, onthou ?) 'n Troeteldier ? Nee (Asof sy nie genoeg te doen het nie.) 'n Kursus iewers ? Nee (Asof sy nie genoeg te doen het nie. En dink jy miskien sy is nie goed genoeg nie ?) 'n Make-over ? Onse hel, Krisjan - jy skaats op bitter dun ys. Los liewer.

Laat ek jou liewer sê. Gee haar Tyd. Tyd wat hare is. Wanneer sy niks vir die huis of die familie of die gemeenskap of die nasie of vir jou hoef te doen nie. Veral nie vir jou nie. Niks vir niemand nie. Dit sal moeilik gaan, want sy is dit nie gewoond nie, en sal nie weet hoe om haar in-gemurgde versorgings-obsessie te ignoreer nie.

Hoe gaan jy dit regkry om haar Tyd te gee ? Figure dit uit, Krisjan. Jy was slim genoeg om haar te kies, en om haar te oorreed om jou te kies. Jy sal 'n plan kan maak.

Doen dit net. Maak daai plan. Vir haar.

Friday, February 27, 2009

ysterkateltjie op my dak

Die wêreld, soos ek hom kom kry het, het twee pole gehad: Bokveld en Karoo. En saam met die skaaptroppe se jaarlike migrasie tussen die twee het my familie gependel. Net voor die winter Karoo-toe. Laat-lente terug na die die genadige klimaat en geriewe op die wye vlakte teenaan die beskutting van 'n Bolandse berg. Dit was die oorkoepelende ritme van daardie tyd waarby ander lewensbedrywe aangepas het. As die Karoo die jaar vroeg gereën het, nou ja, dan trek dit vroeër. Vroeër die inpakkery vir die tent-en-kookskerm maande - vir werk, skoolhou, siek-en-gesondword, vir verjaardae, geboortes, en sterftes.

Met my generasie was die skaaptrek aan't verander - daar was nou vragmotors, en mens het karoo toe gegaan vir ander redes as skaapwerk. Maar die pad was dieselfde - die trekpad by Bloubank af tot by Karoopoort; by die Witbaken regs, dieper die wye vlakte in met Eierberg ver en bleek aan die regterkant. Deur Karee-rivier, Kolkiesrivier, die drif op die draai by Platfontein, uiteindelik Toorberg ver voorkant.

Jy sluit die draadhek oop, ry deur, sluit toe & skakel die enjin af. Die karoo se stilte soos 'n swaar kombers om jou en oor jou.

Daar is mense met die gawe om rare dinge met rare woorde vas te vat - party van hulle het dit met die karoo reggekry. Ek soek nog na die regte woorde vir daardie stuk van my lewe. Die lug en die lig, die lewe in die rivierlopies, die roep van 'n korhaan, die plooiings van Pella se berge, die twee-wielspoor-paadjie bo-oor Rietpoort se Plaat. Die sterre.

Nou het die lewe sy loop geneem - met almal van ons wat daardie plek, en daardie lewe geken het. Maar bo-op my huis se dak - nader aan die sterre as enige ander plek in my lewe - staan my Ouma se karoo-ysterkateltjie.

Daar’s ‘n pad wat loop
van ‘n poort tot ‘n plaat
stofpad en trekpad
en sinkplaat
uitgery oppad
na dowwe plaasbordjies
wat bleik in die son

Daar's 'n pad wat steeds
loop van 'n poort tot 'n plaat
en 'n pynlike moot
op my hart agterlaat.