Thursday, July 3, 2008

Mooi Hannie

Daar was die 3 susters, kort-op-mekaar-se-hakke hubaar, en Hannie was die jongste. Haar twee susters het - so het die mense gesê - uit dieselfde kas uit aangetrek. Met ander woorde - hulle het met 2 broers getrou. Boerseuns daar uit Ladismith se wêreld uit. Daar was nog ander broers ook - maar Hannie het nie sinnigheid in daardie kas gehad nie.

'n Jong proponent het gekom om die dorpsgemeente se uittredende predikant te kom aflos, en so het hy daar op die kansel in Hannie se cross-hairs beland. Kort voor lank, toe word die verlowing aangekondig en almal is dit eens, Mooi Hannie is uitgeknip vir "Mevrou Dominee".

Die tyd stap aan, die proponentjie is ge-graad & ge-toga & aanvaar die beroep - en die dorp maak gereed. Die nuwe Predikant kan 'n oorvloedige verwelkoming verwag - 'n okkasie wat net oortref sal word deur die allemintige bruilof waarvoor die dorp & hulle toekomstige Mevrou Dominee nou aan't klaarmaak is.

En toe kom daardie Sondag en die intree-preek, en die afkondiging dat die nuwe Herder van hierdie Geliefde Gemeente die Hemelse Vader Dankbaar is om die Blye Nuus te kan Deel dat hy eersdaags met sy Geliefde Lewensmaat in die Heilige Huweliksverband sal tree - 'n gans onbekende vaal ou meisietjie in die voorste kerkbank bloos en knik skamerig vir die verstarde gesigte rondom haar, en op die gallery sak Hannie in 'n floute neer.

Nou ja. Hannie is op lang-verlof daar weg. Uitputting en senuwees. Sy moet gaan rus en herstel. Op Ladismith...

En so trek Mooi Hannie toe ook uit dieselfde kas uit aan - die niksvermoedende spaar-broer uitgeboul deur 'n natuurkrag wat hy nie eens sien aankom het nie. Dit was 'n bruilof ter bruilofte - met perde & pluime & 'n uithangery wat die distrik nie gou weer sou sien nie. En 'n fotograaf om alles te verewig.

Maar toe is daar 'n eienaardige ding. In daardie tyd was portrette 'n groot ding - dit het jou beskeie bestaan vir 'n paar blink oomblikke tot iets belangrikers verhef. Om op die blink meubels in die donker voorkamers vir altyd te bly staan as bakens teen die alledaagse. Maar van al die baie werk wat die fotograaf op Hannie se bruilof gedoen het, sien niemand niks. Nie eens een kiekie nie.

En toe op 'n dag is Hannie en haar man net weg. Sonder dat iemand weet waarheen, geen taal of tyding nie. Net sommer weg, vir baie dae. En toe, net so onaangekondigd, weer terug. All smiles. En Hannie deel net trou-foto's uit. Van die bruidspaar - niemand anders nie - nie die string strooimeisies nie, nie die deftige ouer-pare nie, geen perd of pluim nie - net Hannie & haar bruidegom. In ander, swieriger, trou-klere as wat die mense onthou.

Mooi Hannie se lewe het haar 'n streep of twee getrek - maar sy sou dood eerder as om saam met 'n trou-portret te leef wat nie aan haar drome gelyk was nie. Daardie een enkele troos wou sy vir haarself kon toe-eien. Perdekar Kaap toe, gehuurde trou-uitrustings - 'n betaalbare prys vir 'n bietjie salf op 'n ou, diep seerplek wat sy nog 50, 60 jaar verder sou moes saamdra.

Toe ek van Tant'Hannie bewus geword het, het ek niks van dié voor-geskiedenis geweet nie. Sy was net die moeilike ou buurvrou wie se sê "Die wiel sal draai - wag maar, die wiel sal draai", en "God se meule maal stadig, maar hulle maal fyn" half buurt-besit geword het. Onder die grootmense se tee-drink-en-skinder sessies deur het ek maar net na die ooreenkoms sit en soek - tussen die moeë ou mens hier oorkant my en Mooi Hannie se dapper gesiggie waar sy in haar bruidstabberd oral op die outydse meubels rondstaan.

Nou wonder ek of die wiel toe ooit gedraai het...