Tuesday, April 29, 2008

Eers Mens, dan Vrou

Hier kom dit: as jy 'n toon het, gaan ek vanaand op hom trap. As jou nerfie in terme van godsdiens en kultuur effe dun is - gebruik jou muis, Meneer, en Google in 'n ander koers. Dié's nie die plek vir jou nie.

Ek verstaan nie poligamie nie. Of liewer - ek verstaan nie hoe vroue vandag nog daarmee tevrede kan wees nie. Ja, ek het die argumente gelees & gehoor, en mens weet hoe die soort van ding ontstaan het. Déstyds. Maar nou ? Vandag ?

Nou's daar die treurige sage van die honderde kinders in 'n Amerikaanse veelwywer-storie waar onthutste buitestaanders probeer om die bloedbande te ontrafel. En 'n aanhaling van 'n praktiserende poligamis oor sy godsdienstige regverdiging van die praktyk.

Nou ja, laat ek nou maar die man se dwaalleër daar los, al is dit gruisklippers tussen my tande. Maar ek wil ween vir die vroue, en die dogtertjies wat hulle grootmaak. Hoe hoog is die prys wat hulle gaan moet betaal voordat hulle een oggend opstaan en besef: ek is Mens, eerste - dan Vrou, tweede. Hierdie geslags-etiket kom tweede. Ek is Mens, eerste.

Monday, April 28, 2008

Boesman buddhisme

Die wysheid van die Buddha sê: Alles is illusie. Ons lewe - of dit wat ons dink dit is - is maar 'n flietende gedagte in die gang van die ewigheid. Selfs die idee van Tyd is, wel, net 'n idee. Permanensie is 'n illusie. Besittingsreg is 'n illusie.

Sit net so 'n bietjie met hierdie gedagte: Besittingsreg is 'n illusie. Die idee dat iemand eiendomsreg op 'n stukkie planeet kan hê, is 'n illusie. Die idee dat iemand eiendomsreg op 'n stukkie planeet, 'n kontinent byvoorbeeld, kan hê, is 'n illusie ? Die antropoloë vertel ons dat die Boesmans dieselfde geglo het. (Terloops: Die nuutste uitspraak is dat die Boesmans self verkies om "Boesmans" genoem te word - ingeval iemand luskry om my hier van 'n ding te beskuldig...)

Dis 'n enorme gedagte - geen mens het kaart-en-transport nie. Probeer jou indink in 'n kosmologie wat so onbegrensd is. Ek wil dadelik sê - dit bestaan net nie meer nie. Daardie woestynswerwers het met hulle grootse geloof en al uitgesterf.

Maar hier is nou 'n ding om jou kop in 'n filosofiese knoop te draai: Ry daai sleg grondpad op pad Kalahari toe (wel, hy was sleg toe ons laas daarlangs is), en let op die klein riet-afdakkies langs die pad - stowwerige & jammerlike teaterverhogies waar tingerige klein boesmankinders met hulle stukkies bokvel & stringetjies volstruiseierdop-krale vir die toeriste dans. 'n Evokasie van iemand se idee van wat dit is of was om 'n Boesman te wees. 'n Illusie.

My eerste reaksie is een van onsteltenis oor die eksploitasie en vernedering. En dan begin ek wonder oor hoe diep & hoe ver die illusie strek. Gegewe die Boesman se smartlike noodlot, wie is ek om fout te vind met dié saketransaksie: soveel dollar vir my saamspeel met jou idee van my identiteit & kultuur; soveel dollar vir die illusie...

Wat my laat wonder oor Afrika, en oor die illusies van eienaarskap, en oor alles wat gedoen & betaal word om aan sulke illusies permanensie te verleen. En as dit vir Afrika geld, geld dit vir die hele wêreld.

Wednesday, April 23, 2008

red nou 'n nasie...

En daar red sy toe die hele wêreld ! Sarah Connor van Terminator-faam - Hollywood se eie Hessie van Helsdingen.

En het ons haar nou nodig ...

Ek het hoop gehad vir Onse Hillary C. Dalk maak sy dit nog, maar moes die vrou nou waarlik heengaan en haarself so in die voet skiet ?

Ek sweer daar was nie een enkele huishouding in die ganse uitspansel wat nie geweet het waar Bill se knakke lê nie. En dit beteken dat daar nie een enkele huishouding in Amerika was vir wie Hillary nie sou kon sê nie: ek weet - ek weet hoe dit voel - ek weet wat dit kos - en omdat ek self daardeur is, kan jy weet jou issues gaan gehoor word as jy my in die Wit Huis instem.

Maar nee. Bill is deel van die pakket. Ek is Hillary, die former first lady, die senator, die formidabele regskundige - almal erken ek is eintlik die slimmer een - maar op my eie is ek nie regtig genoeg nie - ons het vir Billy nodig om hierdie ding deur te haak. Ag nee magtig mense. Dis nou vroue-regte met 'n papwiel. En kyk hoe het die ding nou ge-backfire. Ek is seker hulle is almal spyt oor daardie strategie. Bietjie te laat, sou ek sê.

Dalk was haar adviseurs (en die hoof-kokkedoor daar was seker maar 'n man - dalk nog jy-weet-wie self) ook soos ons meeste mansmense ken: sal liewer 20 maal om die blok ry eerder as om te stop en direksies te vra. Moes eintlik eers al die gewone mense gevra het waarvoor hulle die graagste sou wou stem - en ek wonder hoeveel mense sou die Double-Whammy Wednesday opsie gekies het: bra gekneus, maar koop 1 en kry nog een verniet by...

Monday, April 21, 2008

8 stringe pêrels om my nek

"Besit die verhoog soos 'n aristokraat - daar moet plek vir 8 stringe pêrels om jou nek wees." Soos ek onthou was dit die vermaarde Dame Ninette de Valois wat dit glo gesê het - die Kaapse balletmeester David Poole het my destyds die storie vertel.

Hierdie pleidooi dus aan ma's (en pa's): Laat jou dogtertjie balletklasse neem. Maak nie saak hoe die figuurtjie lyk nie, maak nie saak of sy geen dans-talent van iewers af geërf het nie. As sy hoegenaamd lus het, gun haar daardie wonderlike fase van satynlinte, en pienk leotards & 'n opskop-tutu vir die konsert. Die presiesheid van die barre, die vryheid van fantasie & improvisasie. Die ontdekkingstog van liggaamlike uitdrukking & musiek & stories.

Al duur die ballet-fase net 'n paar jaar - dis 'n belegging wat lewenslank uitbetaal. Dis lankal bewys dat die liggaamlike ontwikkeling grootliks baat - in soepelheid & krag - en daarmee saam die postuur. Maar daar is nog 'n ander ding.

Is daar 'n beter metafoor, Mevrou (of Me, of inderdaad Meneer), vir die lewe wat vir jou kind wag? Sy's 'n vrou: skoonheid & bedrieglike fragiliteit sal moet staatmaak op 'n bewapening van staal. (En as jy dalk gedink het ballet is maklik - gaan praat bietjie met die rugby-spelers & bokskieters wat al 'n uitdaging aanvaar het om 'n ballet-klas te probeer...)

Laat jou dogtertjie se balletklas haar dus herinner daaraan dat sy haar kennetjie kan lig - hoog genoeg om plek te maak vir daardie 8 stringe pêrels - op haar pad deur die wêreld. Sy is aristokrasie. Moenie toelaat dat sy dit ooit vergeet nie.

Wednesday, April 16, 2008

Fred se voet...

Nie dat Fred nie sy ding kon doen nie - maar nogtans:
"Remember, Ginger Rogers did everything that Fred Astaire did, but backwards and in high heels"
. (Faith Whittlesey)

'n Klompie jare gelede was daar 'n soort art house fliekie om die hoek van my studente-woonplek in Johannesburg. En met my aanland daar was dit MGM Classics seisoen. Nou ja - dit was toe nog veilig om vrou-alleen dag of nag die strate te vat fliek toe en terug.

Fred & Ginger natuurlik, Jeanette MacDonald & Nelson Eddie, Cyd Charisse - al die ikone van daardie tyd. En hier's die ding wat Hollywood my toe gewys het, en wat die lewe my nou al geleer het: Dit vat 'n vrou om die tawwe ratwerk van die lewe met soveel grasie te verduur, en te verbloem.

Tuesday, April 15, 2008

Wie's jou Antie ? #3




Hysbak sjirurgie

Hieraan het ek lekker gekry. Baie.

Winkelsentrum op groot maintenance. Ek sluit aan by die bondel mense by die enkele werkende hysbak. Ons wag. Lank genoeg om ongeduldig te raak, maar nie lank genoeg om die trappe te gaan soek nie.

Hysbak kom – mense uit, & ons klomp in. Lekker gemeng – mans, vrouens, ligpienk, donkerpienk & alle skakerings tussenin. Twee vrouens begin gesels in Xhosa – die (ver heen) swanger een vertel vir haar vriendin van haar (lei ek af) komende keisersnee. En dit word ‘n tutoriaal in die snykundige verloskunde – snitte hierlangs, daarlangs, onderdeur, voorlangs, onder die borste verby – so duidelik & dramaties & bloots dat niemand Xhosa hoef te verstaan nie. Jy kon behoorlik die ontsmettingsmiddel ruik & die baba hoor skree. ‘n Meestersklas.

En die mans (ligpienk so wel as donkerpienk) staan vasgekeer hier in die teater. Weet nie wáár om te kyk nie. Bleker met elke vloer wat ons styg.

En ek wil sê: Ja toe, Krisjan / Sipho / Percy - Hoe’t jy dan gedink ?

Saturday, April 12, 2008

Bolangs

As jy een van daai vroue is wat nie Ondersteuning nodig het nie – los maar, jy sal nie verstaan nie. En as jy internasionale ontwerpers-etikette kan bekostig: ditto.

Vir ons ander, hier in tru-rat tussen die 1ste & die 3de wêreld, matig-bedeeld, en op ‘n budget, is daar 3 kategorieë om uit te kies:
1. Straathoek
2. Industrieel
3. Mevrou Dominee.

Dit voel vir my dit was nie altyd so nie.

My Ouma het haar sykouse & foundation garments met ‘n spesiale paar handskoene hanteer. En hulle was dit werd. Ander era natuurlik. ‘n Rondreisende soort van klere-smous het jou mate kom neem; dan wag jy ‘n paar weke; dan gaan haal jy die pakkie by die poskantoor. Pienk soos die binnekant van ‘n skulp. Belyne (wie weet nog wat dit is...), pienk satynpaneeltjies hier & daar; lang pienk veters vir die vasmaak. ‘n Hibried van argitektuur & kuns wat – beskaafd & betaamlik onder die kerkrok – wonderwerke verrig het.

Nee ek wil nie terug na daardie dae nie – ek is teen walvisjag (die whale-bone belyne…). Maar wat ‘n jammerte dat bespoke onderklere nou net vir die rykes onder ons beskore is.

En hier’s ‘n ding wat my verras het: een van die plekke waar jy die meeste & oordadigste lingerie winkels kry, is juis plekke waar jy Midde-Oosterse vrouens onder die hijab & bhurka sien. Wel, dit maak natuurlik ‘n skewe soort logika…

As jy dalk wonder: die (minder luukse) straatwinkel hierbo is in Afghanistan, wat vir my 'n verstommenis is.

Friday, April 11, 2008

barrevoets oor die Drakensberge

Woolworths by die garage onder op die hoek is soos De Aar stasie destyds – al die lyne kruis daar. Vanoggend, tussen die chips & die koerante, kry ek vars nuus uit die Midde-Ooste. Kameraman-kollega terug van sy filmskiet al langs grense langs, waar humeure & haat warmer is & groter skade aanrig as die woestynson. En die nuus is nie goed nie.

Nou kyk, of dit nou Hamas is, of Hizbollah, of Zanu-PF, of Piet Retief, of daardie veelwywer (so sê hulle...) Hugenote voorsaat wat in 1685 ons bloedlyn hiernatoe getrek het - dis eintlik maar altyd die vrou wat laer-trek. Rondom die familie, rondom die bietjie beskaafdheid wat sy nog kon red & laat saamtrek. Die enigste veilige plek wanneer niks meer veilig is nie.

Ai, magtig mense.

Thursday, April 10, 2008

Ellen

Sy's nou 'n Dame. Dame Ellen MacArthur.

Onthou bietjie daardie video-dagboek wat sy vir die BBC (dink ek) gemaak het. Vrou-alleen om die wêreld, en dis storms & goed wat breek & dis te gevaarlik om te slaap - en toe kom daardie nag in die soort storm wat mens gewoonlik net in 'n fliek sien. Veral die soort disaster-fliek waar die heldin se hare & grimering dwarsdeur perfek bly. Maar nie hier nie. Onse Ellen is so eg & elementeel soos die storm wat sy probeer oorleef. Toe breek daar nog 'n ding, iets vreeslik kardinaals, en dit breek so erg dat Ellen dag dis nou die einde. Trane & als. En toe gaan klim sy die takelwerk in daardie storm, en sy maak die ding werkbaar reg & sy wen wragtig die resies.

Dit was drama, kan ek jou sê. En toe sy wen, toe huil ek - daar voor die sitkamer TV - harder as wat sy gehuil het in die middel van daardie lewensgevaarlike nag op die oop see.

Selfs 20, 30 jaar van nou af sou ek niemand aanraai om Dame Ellen te Antie nie...

Wednesday, April 9, 2008

Vita

Iewers in die DroëHoek moet daar 'n verskriklike mooi tuin wees. Die man was glo iets vreesliks, en die vrou se tuin was haar toevlug. Hoe swaarder sy gekry het, hoe meer het die tuin floreer. Wat mense nogal opgelet het - die DroëHoek was nou nie juis die plek vir tuinmaak nie, maar dit was die plek vir moeilike mans en lydsame boervroue en bure wat weet wat gaan anderkant die lyndraad aan. En almal het geweet: as jy praat van die wonderlike tuin, praat jy eintlik van die vrou se lyding.

So met die verbyry by daardie droewe plaas se uitdraai duskant die Ceres-Karoo, het my ma my die storie vertel. Ek weet nie wat van die vrou geword het nie. Ek hoop haar tuin het oorleef. Dit sou 'n soort geregtigheid wees.

Wat my laat dink aan Vita Sackville-West en Sissinghurst. Onse Vita was nie 'n ongekompliseerde nommer nie - vra maar die Hollywood draaiboekskrywers wat juis sulke kleurvolle lewens uitsoek om te paratiseer.

Laat die flieks & die unauthorized biographies maar derms uitryg oor Vita & Virginia Woolf, en Vita & Harold Nicholson en wie & wat ook al. Ek dink die Sissinghurst tuin verraai veel meer. Gaan lees bietjie haar skrywes oor haar lewe met daardie tuin - veral die Observer artikels. Sy't verstaan van paradoks, en die vrede-maak daarmee; van die lewe wat jou, teen jou aard in, in 'n rigting kan druk, en van die kompleksiteite & teenstrydighede wat maak dat jy dit toelaat; van hartstog & fantasie; en die begeerte om weg te kom van die woelinge van die hart. En dis pure vrou - al het iemand gemeen sy is "Lady Chatterley & her lover rolled into one"...

Jy sien dit nie ? Dis nêrens neergeskryf nie ? Lees tussen die lyne, my Ou. Dis 'n vrou wat daar geskryf het. En as jy nie tussen haar lyne kan lees nie, is jy òf 'n man vir wie ek groot swarigheid sien, of jy's 'n vrou wat moet begin tuinmaak. Daar's 'n ding met 'n vrou & haar tuin. Dit was nie verniet Eva se eerste tuiste nie. Dis ons heimat daai.

Tuesday, April 8, 2008

Sunday, April 6, 2008

Mary & die Life Coach

Die Oranjerivier in vloed is nie 'n gemaklike plek vir iemand in krinolien & 'n kantkragie nie. Nee, sy kon nie by die OneStop langs die N1 gaan wag nie. Dit was nie daar nie. Nie toe nie. Daar was net Mary - dié kant van die waters - en Die Held, 'n paar dagreise verder die ongekerstende onbekende in.

So by myself wonder ek oor daardie wag by die rivier. Gaan grawe in die gedagtes van 'n vrou wat Wag - veral as sy wag sonder om te weet wanneer daardie wag verby gaan wees, en op watter manier dit tot einde gaan kom - en jy ontdek diep waters. Dieper as daardie bruin vloed wat die mooie Mary vasgekeer het. Agter haar - baie myle ver - die ander Mary. En Die Ander Held, Pa Robert Moffat.

Vandag weet ons wat Mary gekies het. Op ma Mary se bloudruk af. Vandag staan die korrelkop Held, Livingstone, se standbeeld oral, en daar's 'n spul museums & biblioteke & akademiese inrigtings & kerke wat hom vereer. En Mary ? Haar keuse het geëindig by 'n ander groot rivier - die Zambezi. Malaria, of een of ander koors. Die Held se graf lê tussen die beroemdes in Londen. Ek twyfel of dit nog gaan help om na Mary s'n te gaan soek - 6 jaar gelede was daar 'n vlugtelingskamp toe die Zambezi in vloed afgekom het, en toe was dit al feitlik tot niet.

Nou wonder ek maar oor Mary langs die groot riviere. En oor Wag.

En jou wragtig. Nou die dag op die radio. 'n Regte Held van vandag. Soos Livingstone het hy die Allerwaarheid in pag - jy moet net volg. Hy's nou wel nie 'n sendeling nie, maar hy's 'n Life Coach, en in TalkShow terme is dit so na aan dieselfde ding as dêmmit aan 'n vloekwoord. 'n Inbelstemmetjie: Sy voel alleen, sy kan nie verstaan hoekom sy nie in 'n commitment met 'n Man is nie. Wat is fout met haar ?

En so help my - die Life Coach vertel haar. En die weerlig slaan nie die stasie van die lug af nie. Nou's daar iewers in die Kaap 'n vrou wat 'n lys sit en maak van alles wat sy behoort te hê om vir 'n Man aan te bied, om dan, al op die lys af, haarself Man-pas te gaan maak. Wel Askies my. Gaan sit liewers iewers langs 'n tierende rivier - en dalk, teen die tyd dat die waters gesak het, het jou Wag jou laat wakker word. Jy't keuses, Koekie. Meer as die Mary's destyds. En in die toekoms, kies liewer vir jou 'n Life Coach met dieselfde chromosoomtelling as joune.

Wie's jou Antie ? #1

Ek hou van die storie dat Adam net die eerste probeerslag was...

Welkom by EVA - só seksisties dat dit nie eens gaan help om verskoning te maak nie. So Koes, Krisjan, as jy dink my stilettos gaan op jou tone beland. Of my Birkenstocks. Of my los-my-uit-my-kop-is-seer slippers. Veral dan.

Wie was dit nou weer - ene Mary ? - wat duskant die Oranjerivier vasgekeer gesit het, en toe einde ten laaste met kinders & al op 'n wilgertakvlot die vloed daar deur is ? En teenaan 'n ander groot rivier aan die ander kant van die aardbol - die Ganges - Kasturbai... In Spanje, die vurige Teresa... Aan die suidpunt van Suid-Amerika, Morag...

EVA vertel die eintlike storie. Hoekom ? Wel, as jy die useless stukkie cool-beheptheid aan die anderkant van die toonbank is, en jy noem my Antie, dan sal jy uitvind hoekom.