Tuesday, April 29, 2008

Eers Mens, dan Vrou

Hier kom dit: as jy 'n toon het, gaan ek vanaand op hom trap. As jou nerfie in terme van godsdiens en kultuur effe dun is - gebruik jou muis, Meneer, en Google in 'n ander koers. Dié's nie die plek vir jou nie.

Ek verstaan nie poligamie nie. Of liewer - ek verstaan nie hoe vroue vandag nog daarmee tevrede kan wees nie. Ja, ek het die argumente gelees & gehoor, en mens weet hoe die soort van ding ontstaan het. Déstyds. Maar nou ? Vandag ?

Nou's daar die treurige sage van die honderde kinders in 'n Amerikaanse veelwywer-storie waar onthutste buitestaanders probeer om die bloedbande te ontrafel. En 'n aanhaling van 'n praktiserende poligamis oor sy godsdienstige regverdiging van die praktyk.

Nou ja, laat ek nou maar die man se dwaalleër daar los, al is dit gruisklippers tussen my tande. Maar ek wil ween vir die vroue, en die dogtertjies wat hulle grootmaak. Hoe hoog is die prys wat hulle gaan moet betaal voordat hulle een oggend opstaan en besef: ek is Mens, eerste - dan Vrou, tweede. Hierdie geslags-etiket kom tweede. Ek is Mens, eerste.

2 comments:

Anonymous said...

Hi hoe lekker lees ek nou hier by jou Eva. Ek stem natuurlik saam, jy't ook nie op my tone getrap nie, al voel ek lui vandag en niks lus vir dink nie.

Alles word altyd geregverdig met godsdiens....en dink dit is maar net kultuur, gerieflikheidshalwe oorgedra van man na man. oor dit lekker is.

Anonymous said...

Spyker op die kop geslaan, natuurlik! En as ons nou werklik wil moeilikheid maak, kom ons kyk na die "godsdiens" wat by diesulkes so handig is - die groot geeste is gewoonlik (surprise, surprise) manlik. Selfs die Grootste Gees - 'n Hy, nie 'n Sy nie. Darem so gerieflik. En nou moet ek seker padgee voor die bliksemstrale my tref...