Wednesday, April 9, 2008

Vita

Iewers in die DroëHoek moet daar 'n verskriklike mooi tuin wees. Die man was glo iets vreesliks, en die vrou se tuin was haar toevlug. Hoe swaarder sy gekry het, hoe meer het die tuin floreer. Wat mense nogal opgelet het - die DroëHoek was nou nie juis die plek vir tuinmaak nie, maar dit was die plek vir moeilike mans en lydsame boervroue en bure wat weet wat gaan anderkant die lyndraad aan. En almal het geweet: as jy praat van die wonderlike tuin, praat jy eintlik van die vrou se lyding.

So met die verbyry by daardie droewe plaas se uitdraai duskant die Ceres-Karoo, het my ma my die storie vertel. Ek weet nie wat van die vrou geword het nie. Ek hoop haar tuin het oorleef. Dit sou 'n soort geregtigheid wees.

Wat my laat dink aan Vita Sackville-West en Sissinghurst. Onse Vita was nie 'n ongekompliseerde nommer nie - vra maar die Hollywood draaiboekskrywers wat juis sulke kleurvolle lewens uitsoek om te paratiseer.

Laat die flieks & die unauthorized biographies maar derms uitryg oor Vita & Virginia Woolf, en Vita & Harold Nicholson en wie & wat ook al. Ek dink die Sissinghurst tuin verraai veel meer. Gaan lees bietjie haar skrywes oor haar lewe met daardie tuin - veral die Observer artikels. Sy't verstaan van paradoks, en die vrede-maak daarmee; van die lewe wat jou, teen jou aard in, in 'n rigting kan druk, en van die kompleksiteite & teenstrydighede wat maak dat jy dit toelaat; van hartstog & fantasie; en die begeerte om weg te kom van die woelinge van die hart. En dis pure vrou - al het iemand gemeen sy is "Lady Chatterley & her lover rolled into one"...

Jy sien dit nie ? Dis nêrens neergeskryf nie ? Lees tussen die lyne, my Ou. Dis 'n vrou wat daar geskryf het. En as jy nie tussen haar lyne kan lees nie, is jy òf 'n man vir wie ek groot swarigheid sien, of jy's 'n vrou wat moet begin tuinmaak. Daar's 'n ding met 'n vrou & haar tuin. Dit was nie verniet Eva se eerste tuiste nie. Dis ons heimat daai.

1 comment:

ericat said...

Baie oulik! Ek het so 'n gevoel dat ek sal geniet wat jy skryf. Eers - ek "tag" jou. Dan maak ek 'n skakel na jou en die ander 7 blogs wat ek "tag" Jy skakel terug na my en "tag weer 8 mense. Ons skryf almal ietsie oor die dingetjies wat ons dankbaar voor is, of geniet. Dit moet nie iets groot wees nie en meer mense sien mekaar. Gaan asb. na my
blog