Sunday, April 6, 2008

Mary & die Life Coach

Die Oranjerivier in vloed is nie 'n gemaklike plek vir iemand in krinolien & 'n kantkragie nie. Nee, sy kon nie by die OneStop langs die N1 gaan wag nie. Dit was nie daar nie. Nie toe nie. Daar was net Mary - dié kant van die waters - en Die Held, 'n paar dagreise verder die ongekerstende onbekende in.

So by myself wonder ek oor daardie wag by die rivier. Gaan grawe in die gedagtes van 'n vrou wat Wag - veral as sy wag sonder om te weet wanneer daardie wag verby gaan wees, en op watter manier dit tot einde gaan kom - en jy ontdek diep waters. Dieper as daardie bruin vloed wat die mooie Mary vasgekeer het. Agter haar - baie myle ver - die ander Mary. En Die Ander Held, Pa Robert Moffat.

Vandag weet ons wat Mary gekies het. Op ma Mary se bloudruk af. Vandag staan die korrelkop Held, Livingstone, se standbeeld oral, en daar's 'n spul museums & biblioteke & akademiese inrigtings & kerke wat hom vereer. En Mary ? Haar keuse het geëindig by 'n ander groot rivier - die Zambezi. Malaria, of een of ander koors. Die Held se graf lê tussen die beroemdes in Londen. Ek twyfel of dit nog gaan help om na Mary s'n te gaan soek - 6 jaar gelede was daar 'n vlugtelingskamp toe die Zambezi in vloed afgekom het, en toe was dit al feitlik tot niet.

Nou wonder ek maar oor Mary langs die groot riviere. En oor Wag.

En jou wragtig. Nou die dag op die radio. 'n Regte Held van vandag. Soos Livingstone het hy die Allerwaarheid in pag - jy moet net volg. Hy's nou wel nie 'n sendeling nie, maar hy's 'n Life Coach, en in TalkShow terme is dit so na aan dieselfde ding as dêmmit aan 'n vloekwoord. 'n Inbelstemmetjie: Sy voel alleen, sy kan nie verstaan hoekom sy nie in 'n commitment met 'n Man is nie. Wat is fout met haar ?

En so help my - die Life Coach vertel haar. En die weerlig slaan nie die stasie van die lug af nie. Nou's daar iewers in die Kaap 'n vrou wat 'n lys sit en maak van alles wat sy behoort te hê om vir 'n Man aan te bied, om dan, al op die lys af, haarself Man-pas te gaan maak. Wel Askies my. Gaan sit liewers iewers langs 'n tierende rivier - en dalk, teen die tyd dat die waters gesak het, het jou Wag jou laat wakker word. Jy't keuses, Koekie. Meer as die Mary's destyds. En in die toekoms, kies liewer vir jou 'n Life Coach met dieselfde chromosoomtelling as joune.

No comments: